Veldrit Program en reëls

Die veld rit neem die formaat aan van die moderne “Boere-rally” wat in verskeie omliggende areas jaarliks gehou word. Dit is nie ‘n resies nie, maar eerder ‘n pretrit wat veilig is vir die hele gesin om aan deel te neem. Oud en jonk kan hierdie veld rit aanpak en geniet!

Ons wil graag deelnemers aan die veld rit aanmoedig om hulle kaartjies  voor die tyd hier op die webtuiste te boek. Dit gaan verseker dat jy nie die dag van die veld rit in lang toue hoef te staan nie, maar vinnig op die baan gaan kom. Dit sal ook die organiseerders help om getalle te kan bepaal, wat die organisasie van die veld rit baie makliker maak.

By die vertrekpunt gaan daar van jou verlang word om ‘n vrywaringsvorm te teken namens jouself en almal wat saamry in jou voertuig. Met betaling sal jy en almal in jou voertuig ‘n groen armbandjie ontvang wat deurentyd gedra moet word, om te verseker dat jy oral toegang sal hê. Niemand mag op die roete wees sonder ‘n gemerkte armbandjie nie. Kaartjies wat voor die tyd geboek is, word ingehandig en bekragtig. Pryse is soos aangedui op die advertensie. Elke inskrywing is net geldig vir een rondte. 4×4 ryers kry ‘n rooi bandjie wat hom toelating sal gee tot die 4×4 baan wanneer hy daar kom. Verder ontvang jy ook ‘n vraestel wat voltooi moet word na gelang van die roete. Deelnemers stop by elke stalletjie en neem deel aan ‘n kompetisie wat deur die betrokke borg aangebied word, en staan ‘n kans om een of meer pryse te wen. Daar is 12 stop punte op die roete, maar sommige punte het meer as een stalletjie, maak seker dat jy almal besoek wat op die vraestel aangedui word.

Deelnemers wat met motorfietse, quad bikes, sandmasters, ens. gaan deelneem is welkom om van die oggend 7 uur af tot 9 uur weg te spring by die arena. Geen motorfietsryer sal toegelaat word om sonder ‘n valhelm te ry nie. Handhaaf ‘n veilige spoed en moenie verby ander deelnemers jaag en klippe opskop nie! Van 9 uur tot 11 uur wil ons graag deelnemers met bakkies, 4×4’s, SUV’s, ens. geleentheid gee om weg te spring. 

Die roete is uitgelê in een van die mooiste gedeeltes van die land, nl. die Vredefort Koepel, en dit is ook so uitgelê om mense die geleentheid te gee om die ongerepte natuurskoon van ons gebied te laat sien. Daar is verskeie wildspesies te sien na gelang van die roete, wees op die uitkyk en neem foto’s daarvan om te kwalifiseer vir pryse wat gewen kan word. Hierdie gebied word eersdaags verklaar as ‘n Wêrelderfenis gebied, en daarom wil ons graag ons deelnemers mooi vra om ons gebied te respekteer. Geen rommel strooi of enige vorm van besoedeling sal toegelaat word nie. Moet asseblief nie die roete verlaat, en op plekke inry wat nie deel is van die roete nie, jy sal vervolg word. Moet niks op die roete beskadig of wegneem nie. Roete aanwysings sal deurgaans op die pad gegee word. Die roete is in ‘n sirkel vorm en dus sal daar hoofsaaklik eenrigting verkeer wees. Niemand mag omdraai en terugry op die roete nie, as daar ‘n krisis kom, vind die naaste baanbeampte, of skakel die noodnommers. Dele van die roete loop op openbare paaie, so daar kan moontlik ook verkeer van die ander kant af wees, wees versigtig! Normale padreëls geld. Die roete is uitgemerk met groen plakkers aan die bome, draad lyne en hekke. Maak asseblief seker by T-aansluitings en afdraai paaie dat jy die regte roete neem. As jy nie meer groen plakkers sien nie, is jy nie meer op die roete nie. Solank jy op die roete bly is jy veilig, as jy nie op die roete is nie, is jy nie veilig nie. By die dele van die roete wat deur plase gaan kan daar wild of vee op die roete wees, handhaaf ‘n spoed van maksimum 50km/h en wees op die uitkyk. Mense wat jaag en/of onverskillig en/of onveilig ry in die opinie van die baanbeamptes sal gepenaliseer word en uit die veldren geskors word.

Drink en bestuur word glad nie toegelaat nie.

Geen gejaag naby die arena of terrein nie.

Wees te alle tye bedag op toeskouers, voetgangers en ander deelnemers.

Moenie stilhou op die roete, buiten by gemerkte stalletjies nie. En sou jy stilhou maak seker dat dit op ‘n veilige plek is en dat ander deelnemers steeds kan verbygaan. Maak seker jou handbriek is goed vas, die Koepel het steil op- en afdraandes!

Mense wat deelneem aan die 4×4 roete ry die normale roete tot by die plek waar die 4×4 roete aangewys word. Van daar af volg hulle die rooi plakkers op die 4×4 roete en kom weer terug na die groen roete toe, sodat hulle aan die res van die veld rit kan deelneem.

Enige vorm van vuur word totaal verbied. Moet asb. nie sigaretstompies weggooi op die pad nie, hou dit in jou voertuig. Braaivleisvure word glad nie toegelaat nie, September is nog brandseisoen in ons area, en hierdie reëls gaan streng toegepas word deur die meer as 10 veiligheidsbeamptes op die roete. Wees welkom om by die terrein die kosstalletjies te besoek as jy honger raak.

Vanaf 13:00 tot 15:00 word daar ‘n plaasbakkie toutrek en ander boeresport aangebied naby die terrein. Dit is ‘n geleentheid wat uniek is aan die Koepel Veld rit, en ons nooi almal uit om dit nie mis te loop nie! Enige persoon met ‘n enkelkajuit bakkie, super cab of dubbelkajuit is welkom om daaraan deel te neem. Kostes is R50 per inskrywing. Daar sal 2 klasse wees om in deel te neem, nl. Die 4×2 bakkie, en die 4×4 bakkie klasse. Die wenner van hierdie 2 klasse sal elk ‘n prys ontvang by die prysuitdeling. Ford-manne en Toyota-manne… hierdie is julle kans om uiteindelik te bewys watter een is die ware plaasbakkie!!!

Almal op die roete moet teen 15:00 terug wees by die basis. Stalletjies word ook afgebreek om 15:00, so niemand sal meer verder kan deelneem nie. Wanneer jy die roete voltooi het en teruggekom het by die basis, handig asseblief jou voltooide vraestel in by die baanbeamptes, en sorg dat jy om 16:00 in die arena die prysuitdeling bywoon, om te sien of jy dalk ‘n prys gewen het deur die dag. Die afsny tyd vir inhandiging van vraestelle is ook om 15:00.

 

Om 17:00 sluit die hele byeenkoms af en almal verdaag.