Wie en wat is die Koepel Boerevereniging
Die Vredefort Koepel is miljoene jare gelede gevorm toe ‘n asteroïed, die grootte van Tafelberg, die plat Vrystaatse vlaktes binnegedring het en die hele landskap omgekeer en verander het in ‘n totale unieke wêreld. Granietbanke wat diep onder die aarde verberg was, is opgedruk oppervlak toe en het ‘n reeks rante gevorm wat soos rimpels in water agter mekaar lê. Mettertyd het die Vaalrivier die mooiste pad deur hierdie bergland kom soek, en die Koepel verdeel in ‘n stukkie Vrystaat en ‘n stukkie Noordwes. Soos die jare aangestap het, het die rante ‘n unieke kombinasie van plantegroei begin voortbring, en verskeie voëlspesies en wild het die natuurskoon raakgesien en hulle hier kom vestig.
Die mense het ook nie op hulle laat wag nie, en tydens die Groot Trek het heelwat families uit die Kaap opgetrek, deur die Vaal Karoo, oor die ververlate vlaktes van die Vrystaat en hier in die Koepel ‘n grootliks onbewoonde land gevind waar hulle hulle bakens kom inslaan het. Die Vaalrivier was ‘n lewensbron vir die nuwe inwoners en vir jare het hulle mielies, tabak en lusern op die walle van die rivier verbou. Baie van die nasate van hierdie Voortrekkers leef vandag nog in die gebied. Baie ander het van heinde en verre gekom om ook ‘n lappie grond te kry in hierdie gebied, en wissel die inwoners vandag van tradisionele bees- en saaiboere tot stadsjapies, wat ‘n naweekhuisie langs die rivier het, met ‘n paar visstokke in die water.
Die Yankeesektor Brand- en Veiligheidsvereniging het ontstaan uit die behoefte van die inwoners aan die Vrystaat kant van die Koepel, om ‘n vereniging te hê wat samewerking tussen boere en grondeienaars bewerkstellig vir die bekamping en bestuur van veldbrande en ook om algemene veiligheid in die gebied te verseker. Omdat die omgewing ongelukkig baie wegkruipplek vir misdadigers bied, was ons inwoners al baie keer in die verlede die slagoffers van plaasaanvalle, roof en diefstal gewees. Die inwoners van die Koepel is egter mense om mee rekening te hou, en op ‘n stadium was daar in die bestek van 2 jaar meer as 40 susksesvolle arrestasies gemaak van veroordeelde kriminele deur boere van die omgewing, en sorg hierdie gedugte span vandag nog dat inwoners van die Koepel lekker kan slaap in die nag. Die Yankeesektor behou reeds vir heelwat jare die rekord vir die sektor met die minste misdaad in die breër Vredefort distrik.
In April 2018 het die bestuur van die Yankee kommitee besluit dat hulle graag die Yankeesektor Brand- en Veiligheidsvereniging wil opgradeer na ‘n Boerevereniging, en die Koepel Boerevereniging is toe hieruit gebore. Hierdie stap is geneem om onder andere ‘n groter funksionaliteit te gee, en om ook affiliasie te verkry met georganiseerde landbou en borgskappe te kry van Landbou organisasies en instansies wat in boereverenigings belangstel en ondersteun. Die bestuur beoog ook om nie langer hulle aandag net op Brand en Veilgheid te fokus nie, maar ook om ondersteuning te bied aan die onderskeie boerderye en ander bedrywe wat uniek aan die gebied is.
Die Koepel Boerevereniging is op hierdie stadium nog in sy kinderskoene, maar met ‘n sterk bestuur, en toegewyde en gemotiveerde lede streef ons na hoë hoogtes!
Brandbeskermingsvereniging
Die Koepel Boerevereniging is die sambreel organisasie vir die voormalige Yankeesektor Brand- en Veiligheidsvereniging, wat ‘n subafdeling is van die Moqhaka Brandbeskermingsvereniging van Kroonstad en omliggende dele. ‘n Brandbeskermingsvereniging is ‘n vereniging van vrywilligers wat saamgestel mag word uit grondeienaars met die doel om veldbrande te voorkom, te voorspel, te beheer en te blus onder die Nasionale Veld- en Bosbouwet van 1998.
Lidmaatskap aan die Brandbeskermingsvereniging (BBV) is vrywillig en niemand word geforseer om daaraan te behoort nie. Die Koepel Boerevereniging tree slegs op as BBV van die Yankeesektor, in die Vredefort distrik. Grondeienaars wat buite die Yankeesektor val is welkom om aan te sluit by die Koepel Boerevereniging onder bepaalde regulasies, maar hulle kan ongelukkig nie deel word van die BBV nie. Om lid te word van die Koepel Boerevereniging, sien die blad met titel, Lidmaatskap.
Die Koepel Boerevereniging BBV bied geleentheid aan elke grondeienaar in die Yankeesektor om lid te word van die brandbeskermingsvereniging teen die minimale fooi van 35c per hektaar per jaar. Daar is egter ‘n minimum bedrag van R150, sou die totale hektare van u grond minder wees as 429 ha. Dan word daar ‘n 30% heffing op die vorige bedrag bereken en bygevoeg wat dien as veiligheidsgelde, waarmee veiligheidstoerusting aangekoop en onderhou word vir die veiligheidsbeen van die sektor.
Sou ‘n brand op u plaas ontstaan en versprei na ander plase rondom, kan daar groot geregtelike gevolge daaruit voortspruit. Lidmaatskap aan ‘n geregistreerde BBV bied u beskerming sou so ‘n saak in die hof beland. Wanneer ‘n vuur normaalweg op u eiendom ontstaan verwag die hofprosedure dat u, u onskuld sal bewys in die saak, en u is outomaties skuldig totdat u onskuld bewys kan word. Dit is ‘n moeilike proses en kan geweldige finansiële implikasies teweegbring. Wanneer u egter aan ‘n BBV behoort, moet die teenoorgestelde party u skuld bewys in die hof, wat baie voordelig is in enige hofsaak. U is dus onskuldig, totdat u skuldig bewys kan word al dan nie.
Daar bestaan ‘n miskonsepsie dat die brandvereniging ‘n diens is. Persone wat hulle lidmaatskap aan die BBV betaal koop nie ‘n diens nie, en die BBV lede is onder geen verpligting om ‘n vuur op u grond te blus nie. Die BBV is slegs daar om u beskerming te bied teen eise en hofgedinge soos hierbo uiteengesit. Die blus van veldbrande word gedoen deur vrywilligers in die sektor, en dit word ook gedoen op eie koste. Geen persoon ontvang vergoeding vanaf die BBV vir hulp met brandbestryding nie. Die brandvereniging se fondse word aangewend vir toerusting vir brandbestryding.
Buiten dat die brandvereniging vir grondeienaars beskerming bied en risiko drasties verminder, word die gelde wat ingevorder word vir die brandvereniging ook weer aangewend in die sektor om veiligheid en brandveiligheid te verbeter. Hieruit word al die vuurvegters, radio’s en ander toerusting van die sektor onderhou, en nuwe toerusting word aangekoop soos wat benodig word. Sou al die grondeienaars aansluit by die brandvereniging en hulle brandgelde betaal, stel dit die sektor in staat om genoeg toerusting aan te koop, en om bestaande toerusting beter in stand te hou. Sodoende kan ons gebied een van die veiligste plekke in die land word om in te woon.
Die brandvereniging en veiligheidsgelde geld ook as die ledegelde vir die Boerevereniging. Daar is geen bykomende lidmaatskapgelde om aan die boerevereniging te behoort nie. Persone wat egter buite die Yankeesektor val en graag ook deel wil word van die Boerevereniging is welkom om aan te sluit, maar sal ongelukkig nie die voordeel van die brandbeskermingsvereniging kan geniet nie.